Showing posts with label tuisgebak. Show all posts
Showing posts with label tuisgebak. Show all posts

Sunday, January 24, 2021

Waar is Langsdiebosmark?

 Ons @langsdiebosmark Twitter-profiel maak dit so maklik om die mark te vind want in ons Bio is die GoogleMaps-skakel na aanwysings net soos wanneer jy sou kliek op die skakel van so flussies. 



Malmesbury is 'n lekker gemaklike 45 minute vanuit Kaapstad se middestad of Paarl of 'n halfuur uit Durbanville.  Alle paaie lei hierheen, of so lyk dit my.  Veral die N7 dubbelweg is net 'n plesier en jy kan jou verlustig aan troppe vee, wingerde, saailande met koring, rog, hawer, gars of goudgeel canola.  

Langsdiebosmark is agter die HS Swartland in Baroccastraat, in die Voortrekkers se saaltjie wat ons weekliks huur.  Daar is lekker baie parkering en die markie is onderdak, uit die wind en weer maar ook uitstekend geventileer.  

Nuwe toevoegings is Donuts, Spookasem en Draairoomys!  Bring die kinders.  

En ons sien soms mense met honde aan leibande; dit sou onprakties wees om met 'n Great Dane daar aan te kom maar onlangs was daar 'n meisie met haar Border Colliewelpie, daar kom mense met Yorkies en Maltesies en Schnauzers.   Bring gerus ook daai 'doggie bag' vir die optelslag as daar dalk 'n glipsie was, maar net buite is daar 'n groot bloekombos ingeval die natuur roep. En SAPS het bevestig dat geen probleme oordag by hulle aangemeld word nie. 

Daar het jy dit, want ons is mos

#langsdiebos


Wednesday, November 25, 2020

Waar Dawid Die Wortels Gegrawe Het

 

As ‘n mens groenteboer gespeel het as kind en die mooiste Contender-groenboontjies soggens afgeoes het, naasaan Australiese bruin uie, ertjies om netnou saam met ‘n gryse Ouma uit te dop (en die helfte rou te eet!), dan waardeer jy pragtige, vars groente uit die tuin.

 


Saterdagoggende kan ek my verkyk aan die groot, gesonde wortels en rooi beet, boerenkool, blomkool, kropslaai of gewoon net kool.  En dis uie, soetrissies (wat mense ‘pepers’ noem) met hulle geel, groen en rooi lyfies.  Daar is dan ook suurlemoene, murgpampoentjies, eiers en boonop lekker tuisgebakte growwe- en karringmelkbeskuit.  Natuurlik bly ‘n lekker wildspasteitjie nie agterweë nie en dis my eerste keuse vir ontbyt – genoeg proteïn om ‘n diabeet en enige nader mens lank staande te hou. 

 


Vir iemand wat graag potjie maak, is daar ook vars speserye en dis belaglik goedkoop. 

 

Maar terug na die pasteie:  ek het nou al heerlike hoender geproe, maar ook eland en ander wild.  En dis soos my wyle Ma Truida dit gemaak het – kry sommer ‘n gesinsgrootte een vir Sondag se kreuntafel.  Jy gaan nie spyt wees nie; dien dit op saam met lekker vars groente en ‘n slaai, want al die bestanddele lê en wys lyf by die mark. 

 

Vir mense wat iets soek vir die gesin, kom kuier by die mark, bestel ‘n lekker ontbyt by Sjef Francois se Bully & Koos restaurant binne die mark, kry Sonja se Boepensies (jaffels) of Renate se Roosterkoek, ook in Boerie-formaat met Hendrik se lekker wors daarin.  Esther langsaan het pannekoek, Rick & Marina het die verleidelikste lekkergoed en koffie. 


Bring die gesin saam, vul die piekniekmandie aan by Langsdiebosmark en gaan doen dan die 5km Driehoekpad; beide is op GoogleMaps met foto's. 

 

Natuurlik is daar goedjies om huis toe te neem, soos byvoorbeeld kaas vars vanaf die plaas in die distrik en Bessie se Kombuis het die wonderlikste ingelegde lekkertes. Vrugte, sousbone, kerriebone, mosterdsous, braaislaai, koringslaai, pastaslaaie en dies meer.  End it kom in Consol-flesse wat duursaam is end us lank gaan hou vir jou. 

 


Daar is ook heerlike ciabatta, rogbrood en koeke. 

 

Water my mond darem nou…………

 

Monday, November 9, 2020

Saterdag is Gesinsdag

    Ons stap in, skuins na sewe die oggend.  Regoor die deur is Esma se plaastafel reeds belaai met spinasie en eiervrug, grenadellas, eiers, groenboontjies, uie, kool en allerhande plaasgroente.  Daar is rou heuning, allerhande soorte beskuite: semel, karringmelk, growwe beskuit, pasteie.  Nog voordat ek by die gesellige vuurtjie in die oop herd kom, het ek reeds 'n lekker hoenderpastei gekoop vir ontbyt.  Erica was daar om te help.

    Oppad vuur toe, bestel ek lekker vars Toskaanse koffie by Rick, in wese 'n ware Devonshireman wat hier in die Swartland kom vestig en in die week 'n computer geek is - maar Saterdae staan hy en Carlamello bont om geurige koffie aan te dra regoor die markie, ook daar waar mense sommer netnou gaan aansit vir prentjiemooi lipleklekker Bully & Koos ontbyt van Sjef Francois.  

    Renate se geel vuurvlammetjies roep die pionier in my en ek gaan maak hande warm al is die oggend allesbehalwe koud.  Daardie vlammetjies gaan netnou rooi kole word en dan roosterkoek en platbrood gaar rooster.  Behendig weeg sy die deeg af, dat almal ewe veel kry en niemand tekort skiet nie. Plus minus twee gram, sê Renate en pak nog ses ronde degies op die rooster.  Netnou sal iemand 'n Boerie kom bestel; dis ook roosterkoek met Hendrik se lekker geurige wors daarin.  Jy kan kies tussen 'n smoor of Daai Sous.  Dis ook waar moerbeitert regstaan, pragtig tuisgebak met die hulp van Hanlie wat Saterdae by die mark kom help. 



    Marina (sy is Rick se Tweede Opinie) het sulke kabouter-oulike sjokoladeverleidings wat saam met koffie gaan, met tuisgemaakte malvalekkers daarin.  Sy maak die verruklikste lekkers met die hand en haar spesialiteit is mos meerkatlewertjies.  Dis hulle familienaam vir 'n gesogte soetdingetjie genaamd Turkish Delight.  En sy wéét hoe!

    Kry sommer lekker pizza-basis met regte Itialiaanse tamatiepasta, hou gevries en maak jou eie smaaklike ete soos nodig.  Ons het dit tuis probeer en dit was heerlik, soos pizza moet, met "crispiness.

    Sommer by die deur links is Karen se handgemaakte juwele, iets wat sy al van 2006 af doen en haar produkte leef al voort on London, Melbourne, Atlanta, Jacksonville, Parys Fr, Kanada.....maar jy kan joue kry teen groothandelpryse hier by langsdiebos. Sy gebruik graag halfedelstene, egte pêrels, varswaterpêrels, vulkaniese rotssteentjies, koraal, ens.  Halssnoere, armbande, oorkrabbetjies en dies meer.  Dis ook waar jy vars kruie en speserye gaan kry, direk van die invoerders af.  Gerookte paprika, masala, kerries, gemmer, goudgeel borrie, kaneelstokkies, ens.  

    Sonja en haar dogter verskaf Boepensies en dis baie lekker.  As mens nou nie 'n fris hoenderpastei agter die blad het nie, is daar dalk plek vir 'n Brekfis Boepensie met kaas, gebakte eier en bykin daarin. Dis nou egte jaffels in daai outydse pannetjies gebak.  Mensig, maar die markgangers boer daar en bestel sommer genoeg vir die naweek, bestel vooruit vir die week wat kom.  Dit maak etes vir werkende mammas, slim huisvroue, alleenvroue en altydhonger mans mos baie maklik. 

    Langsdiebos is oop Saterdae vanaf 8:30 - 1, ons laaste markdag vir 2020 is Saterdag, 19 Desember.  Kry ons hier of soek op GoogleMaps na #langsdiebos https://g.page/langsdiebos?share  Ons is minder as 'n uur met die nuwe breë N7-dubbelweg vanaf Kaapstad, daar is genoeg parkering, te eet en te drink, pragtige brei- en hekelwerk, leerhandsakke, Salomé se tuisgemaakte skoonheidsmiddels, Bessie se ingelegde vrugte, bone en slaaie..............

Kom maak 'n draai!  Bring die gesin en gaan stap agterna op die immer gewilde Driehoekpad of bring die bergfietse saam 




Monday, October 19, 2020

Dis Nou Maar Wors! Gee Daai Sous Aan Asb?

Saterdag, die sewende dag van die week, is die hoogtepunt.  Vroegoggend kom mens daar aan en bespied die omgewing vir vriendelike magte.  As daar vlammetjies dans en 'n houtvuurtjie soos boksbrekfis klap, knetter en kraak, is dit 'n stewige begin.  Want Renate se glimlag en vars roosterkoek is oppad.   

En naasaan sit Hendrik reg met sy braaigoed en vleisgoed, vanaf die Kalahari tot die Swartland se proesels is daar.  Soute sonder foute, sommer net reg vir braai.  Daar is legendariese Boerewors, 'n smaaklike sosatiewors en ander worsighede sonder branding van die groot ouens.  Hendrik se wors is nou maar wors!

Daar by Renate se Roosterkoekvuurtjie is daar ook Boeries wat sy maak met voormelde wors en kry jy dan nou vir jou Daai Sous.  'n Geurige, pikante sous wat iewers in die agterkop bekenderig proe maar jy sal haar voetsole met 'n warm kool moet brand vir die resep.  En omdat sy vriendelik glimlag, sal jy haar nie gaan martel nie maar eerder haar olywe en moerbeigoete probeer.  

Wanneer laas het jy regte moerbeistroop geproe?

Langsdiebos Mark gebeur Saterdag 8:30 - 1 en jy kry ons via GoogleMaps

Monday, October 12, 2020

Lees oor die gewilde Langsdiebos Mark van Malmesbury

Soos die naam tereg sê, is Langsdiebos geleë langs die woud van toringhoë bloekoms, meesal die saligna-soort, wat in 1845 aangeplant is deur Lord Montague vir die mynbou-industrie elders om as stutpale gebruik te word.  Saligna is maar een van sowat 700+ soorte bloekoms, endemies tot Australië.  

Langsdiebos is in Malmesbury, hoofstad van die Swartland.  

Die Swartland het sy naam ontleen aan die voorkoms van die renosterveld, omdat renosterbos op 'n afstand swart vertoon, veral gedurende hoogsomer wanneer die kwik gereeld om en by veertig grade Celcius boer.  

Die alombekende Swartland Wynkelder begrens die dorp aan die oostekant, as jy met die R45 vanaf Wellington of Hermon sou inkom.  Draai sommer regs by die heel eerste straatjie, Barlinkastraat - oppas, die afdraai is nogal skielik!  Volg die pad, dit loop dood in Baroccastraat waar jy links swenk en hou net aan, regoor Loedolf en verder, totdat jy die markie se rooi-en-wit borde by die Voortrekkersaal sien. 

Dan parkeer jy, en kom kry jou koffie by Rick's Coffee.  Rick is van Devon maar maak geurige Boeretroos van uitgesoekte arabica-bone.  Anderdag het sy Toskaanse vermenging die monde laat water.   Sy assistent Carlamello sal jou bedien met die grasie en styl - en glimlaggie - wat die geleentheid vereis.  En dan is daar die vreemdsoortige sjokoladelepels, fudgeshortbread sticks  en ander soete goete wat Marina tuis maak, saans terwyl ander Binnelanders kyk.  Dan werk sy en jy moet net kom proe aan wat sy meerkatlewertjies 😋 noem!  Nee, geen vrese, dis nie soos die naam sê nie maar iets heel anders en selfs Vegan vriendelik.  (Waarborg: Geen meerkaaie is beseer tydens die skryf van hierdie artikel nie.)

Naasaan is Esma se Boeremark van haar eie.  Groente mooi genoeg om op die kaggelrak uit te stal tussen Mof en Sy Mense  en Herrie Op Die Ou Tremspoor.  Mens soek net na daai DSLR en die nifty fifty om daardie veelkleurige bossies beet, wortels, uie, preie, uie, suurlemoene en dies meer, digitaal te fossileer vir die nageslagte wat nie gaan weet hoe groente lyk nie. 



Daar is natuurlik ook Daai Sous van Renate.  Ek kan jou die resep gee, maar dan moet ek jou dadelik in die bloekombos moet gaan begrawe!  Want dis so geheim dat nie eens die een wat dit maak, dit mag onthou nie maar elke week se nuwe voorraad word gemaak tydens 'n laatnag-kombuisritueel waar mans en kinders buite moet bly. Jy sal weet hoekom dit so is as jy dit eers proe; as dit in die Middeleeue was......  En dan Daai Sous se Daai Roosterkoek en Daai Roosterboeries.   Jy kry dit waar die vuurtjie kwistig klap, knetter en klap in die vuurherd.  





En so kan ons op die lys aangaan, vanaf moerbeistroop tot by lyfbederfsepies en -roompies, pragtige potplante, leerhandsakke, plaaskaas en plaasbotter, droëvrugte, neute en natuurlik die kleurvolste flesse met ingelegde pere, perskes, sousbone, atjar, blatjang, konfyte en dies meer.  

Erica en ander bied pragtige hekelwerk en breiwerk aan; dis babakleertjies en -skoentjies, fyn handkuns vir fyn mensies en iets wat elke jong mamma en verwagtende moedertjie moet sien, maar ek dink stellig elke ouma en tante ook.  Want dis hier waar groot bederf blywende waarde het.  

Tussendeur is daar heerlike aansit-ontbyt by Bully & Koos, waar die "inwonende sjef" en sy span heerlike geregte optower.  En nasaan vars vis, samoosas, Boepensies (jaffels) en vars kruie (baie goedkoop) en dan die allermooiste handgemaakte armbande, halssnoere en oorkrabbetjies.  

Daar is regtig te veel om op te noem - grootkoeke, tuisbrood, beskuit, koekies en Esma se lekkerbek pasteie - anderdag sulke lekker wildspastei geproe, nes my oorle' Ma dit gemaak het.  


Elke Saterdag 8:30 - 1
https://g.page/langsdiebos?share




Braai n All

Die lekkerste, geurigste boerewors met 'n uitstekende speserymengsel en verder net vleis.  In ons bykans 34 jaar van getroude lewe het e...