As ‘n mens groenteboer gespeel het as kind en die mooiste
Contender-groenboontjies soggens afgeoes het, naasaan Australiese bruin uie,
ertjies om netnou saam met ‘n gryse Ouma uit te dop (en die helfte rou te
eet!), dan waardeer jy pragtige, vars groente uit die tuin.
Saterdagoggende kan ek my verkyk aan die groot, gesonde
wortels en rooi beet, boerenkool, blomkool, kropslaai of gewoon net kool.
En dis uie, soetrissies (wat mense ‘pepers’ noem) met hulle geel, groen en rooi
lyfies. Daar is dan ook suurlemoene, murgpampoentjies, eiers en boonop
lekker tuisgebakte growwe- en karringmelkbeskuit. Natuurlik bly ‘n lekker
wildspasteitjie nie agterweë nie en dis my eerste keuse vir ontbyt – genoeg
proteïn om ‘n diabeet en enige nader mens lank staande te hou.
Vir iemand wat graag potjie maak, is daar ook vars speserye
en dis belaglik goedkoop.
Maar terug na die pasteie: ek het nou al heerlike
hoender geproe, maar ook eland en ander wild. En dis soos my wyle Ma
Truida dit gemaak het – kry sommer ‘n gesinsgrootte een vir Sondag se
kreuntafel. Jy gaan nie spyt wees nie; dien dit op saam met lekker vars
groente en ‘n slaai, want al die bestanddele lê en wys lyf by die mark.
Vir mense wat iets soek vir die gesin, kom kuier by die mark,
bestel ‘n lekker ontbyt by Sjef Francois se Bully & Koos restaurant
binne die mark, kry Sonja se Boepensies (jaffels) of Renate se Roosterkoek, ook
in Boerie-formaat met Hendrik se lekker wors daarin. Esther langsaan het
pannekoek, Rick & Marina het die verleidelikste lekkergoed en koffie.
Bring die gesin saam, vul die piekniekmandie aan by Langsdiebosmark en gaan doen dan die 5km Driehoekpad; beide is op GoogleMaps met foto's.
Natuurlik is daar goedjies om huis toe te neem, soos
byvoorbeeld kaas vars vanaf die plaas in die distrik en Bessie se Kombuis het
die wonderlikste ingelegde lekkertes. Vrugte, sousbone, kerriebone,
mosterdsous, braaislaai, koringslaai, pastaslaaie en dies meer. End it
kom in Consol-flesse wat duursaam is end us lank gaan hou vir jou.
Daar is ook heerlike ciabatta, rogbrood en koeke.
Water my mond darem nou…………
No comments:
Post a Comment