Monday, October 19, 2020

Dis Nou Maar Wors! Gee Daai Sous Aan Asb?

Saterdag, die sewende dag van die week, is die hoogtepunt.  Vroegoggend kom mens daar aan en bespied die omgewing vir vriendelike magte.  As daar vlammetjies dans en 'n houtvuurtjie soos boksbrekfis klap, knetter en kraak, is dit 'n stewige begin.  Want Renate se glimlag en vars roosterkoek is oppad.   

En naasaan sit Hendrik reg met sy braaigoed en vleisgoed, vanaf die Kalahari tot die Swartland se proesels is daar.  Soute sonder foute, sommer net reg vir braai.  Daar is legendariese Boerewors, 'n smaaklike sosatiewors en ander worsighede sonder branding van die groot ouens.  Hendrik se wors is nou maar wors!

Daar by Renate se Roosterkoekvuurtjie is daar ook Boeries wat sy maak met voormelde wors en kry jy dan nou vir jou Daai Sous.  'n Geurige, pikante sous wat iewers in die agterkop bekenderig proe maar jy sal haar voetsole met 'n warm kool moet brand vir die resep.  En omdat sy vriendelik glimlag, sal jy haar nie gaan martel nie maar eerder haar olywe en moerbeigoete probeer.  

Wanneer laas het jy regte moerbeistroop geproe?

Langsdiebos Mark gebeur Saterdag 8:30 - 1 en jy kry ons via GoogleMaps

2 comments:

  1. Klink n heerlike ondervinding en geleentheid.

    ReplyDelete
    Replies
    1. O, dis sekerlik aangenaam, Saterdag is die week se hoogtepunt! Dankie vir jou inloer hier.

      Delete

Braai n All

Die lekkerste, geurigste boerewors met 'n uitstekende speserymengsel en verder net vleis.  In ons bykans 34 jaar van getroude lewe het e...