Monday, October 19, 2020

Dis Nou Maar Wors! Gee Daai Sous Aan Asb?

Saterdag, die sewende dag van die week, is die hoogtepunt.  Vroegoggend kom mens daar aan en bespied die omgewing vir vriendelike magte.  As daar vlammetjies dans en 'n houtvuurtjie soos boksbrekfis klap, knetter en kraak, is dit 'n stewige begin.  Want Renate se glimlag en vars roosterkoek is oppad.   

En naasaan sit Hendrik reg met sy braaigoed en vleisgoed, vanaf die Kalahari tot die Swartland se proesels is daar.  Soute sonder foute, sommer net reg vir braai.  Daar is legendariese Boerewors, 'n smaaklike sosatiewors en ander worsighede sonder branding van die groot ouens.  Hendrik se wors is nou maar wors!

Daar by Renate se Roosterkoekvuurtjie is daar ook Boeries wat sy maak met voormelde wors en kry jy dan nou vir jou Daai Sous.  'n Geurige, pikante sous wat iewers in die agterkop bekenderig proe maar jy sal haar voetsole met 'n warm kool moet brand vir die resep.  En omdat sy vriendelik glimlag, sal jy haar nie gaan martel nie maar eerder haar olywe en moerbeigoete probeer.  

Wanneer laas het jy regte moerbeistroop geproe?

Langsdiebos Mark gebeur Saterdag 8:30 - 1 en jy kry ons via GoogleMaps

Monday, October 12, 2020

Lees oor die gewilde Langsdiebos Mark van Malmesbury

Soos die naam tereg sê, is Langsdiebos geleë langs die woud van toringhoë bloekoms, meesal die saligna-soort, wat in 1845 aangeplant is deur Lord Montague vir die mynbou-industrie elders om as stutpale gebruik te word.  Saligna is maar een van sowat 700+ soorte bloekoms, endemies tot Australië.  

Langsdiebos is in Malmesbury, hoofstad van die Swartland.  

Die Swartland het sy naam ontleen aan die voorkoms van die renosterveld, omdat renosterbos op 'n afstand swart vertoon, veral gedurende hoogsomer wanneer die kwik gereeld om en by veertig grade Celcius boer.  

Die alombekende Swartland Wynkelder begrens die dorp aan die oostekant, as jy met die R45 vanaf Wellington of Hermon sou inkom.  Draai sommer regs by die heel eerste straatjie, Barlinkastraat - oppas, die afdraai is nogal skielik!  Volg die pad, dit loop dood in Baroccastraat waar jy links swenk en hou net aan, regoor Loedolf en verder, totdat jy die markie se rooi-en-wit borde by die Voortrekkersaal sien. 

Dan parkeer jy, en kom kry jou koffie by Rick's Coffee.  Rick is van Devon maar maak geurige Boeretroos van uitgesoekte arabica-bone.  Anderdag het sy Toskaanse vermenging die monde laat water.   Sy assistent Carlamello sal jou bedien met die grasie en styl - en glimlaggie - wat die geleentheid vereis.  En dan is daar die vreemdsoortige sjokoladelepels, fudgeshortbread sticks  en ander soete goete wat Marina tuis maak, saans terwyl ander Binnelanders kyk.  Dan werk sy en jy moet net kom proe aan wat sy meerkatlewertjies 😋 noem!  Nee, geen vrese, dis nie soos die naam sê nie maar iets heel anders en selfs Vegan vriendelik.  (Waarborg: Geen meerkaaie is beseer tydens die skryf van hierdie artikel nie.)

Naasaan is Esma se Boeremark van haar eie.  Groente mooi genoeg om op die kaggelrak uit te stal tussen Mof en Sy Mense  en Herrie Op Die Ou Tremspoor.  Mens soek net na daai DSLR en die nifty fifty om daardie veelkleurige bossies beet, wortels, uie, preie, uie, suurlemoene en dies meer, digitaal te fossileer vir die nageslagte wat nie gaan weet hoe groente lyk nie. 



Daar is natuurlik ook Daai Sous van Renate.  Ek kan jou die resep gee, maar dan moet ek jou dadelik in die bloekombos moet gaan begrawe!  Want dis so geheim dat nie eens die een wat dit maak, dit mag onthou nie maar elke week se nuwe voorraad word gemaak tydens 'n laatnag-kombuisritueel waar mans en kinders buite moet bly. Jy sal weet hoekom dit so is as jy dit eers proe; as dit in die Middeleeue was......  En dan Daai Sous se Daai Roosterkoek en Daai Roosterboeries.   Jy kry dit waar die vuurtjie kwistig klap, knetter en klap in die vuurherd.  





En so kan ons op die lys aangaan, vanaf moerbeistroop tot by lyfbederfsepies en -roompies, pragtige potplante, leerhandsakke, plaaskaas en plaasbotter, droëvrugte, neute en natuurlik die kleurvolste flesse met ingelegde pere, perskes, sousbone, atjar, blatjang, konfyte en dies meer.  

Erica en ander bied pragtige hekelwerk en breiwerk aan; dis babakleertjies en -skoentjies, fyn handkuns vir fyn mensies en iets wat elke jong mamma en verwagtende moedertjie moet sien, maar ek dink stellig elke ouma en tante ook.  Want dis hier waar groot bederf blywende waarde het.  

Tussendeur is daar heerlike aansit-ontbyt by Bully & Koos, waar die "inwonende sjef" en sy span heerlike geregte optower.  En nasaan vars vis, samoosas, Boepensies (jaffels) en vars kruie (baie goedkoop) en dan die allermooiste handgemaakte armbande, halssnoere en oorkrabbetjies.  

Daar is regtig te veel om op te noem - grootkoeke, tuisbrood, beskuit, koekies en Esma se lekkerbek pasteie - anderdag sulke lekker wildspastei geproe, nes my oorle' Ma dit gemaak het.  


Elke Saterdag 8:30 - 1
https://g.page/langsdiebos?share




Braai n All

Die lekkerste, geurigste boerewors met 'n uitstekende speserymengsel en verder net vleis.  In ons bykans 34 jaar van getroude lewe het e...